Helene De Kock
“Ek skryf omdat mense my interesseer. Veral verhoudingsverhale roer my hart. Alhoewel die liefde ‘n belangrike onderwerp in my verhale is, staan dit nooit apart van ander verhoudings nie. Die liefde self is verweef in die web van die lewe, glo ek. Ander verhoudings word daardeur geraak – soos die verhouding tussen ouer en kind, die verhoudings tussen broers en susters en ons almal se verhouding met God en die groter wêreld om ons.” – Helene de Kock
Uit dié skrywer se pen het al digby die veertig boeke verskyn waarin sy dit inderdaad regkry om lesers se harte op ’n besondere manier aan te raak. Die pragtige verhale waarvan sommige iewers op ’n wynplaas in die Kaap afspeel of ander met die Oos-Vrystaat en Riemland as milieu, is almal stories wat ’n mens aangryp vanweë haar fyn uitbeelding van die verskillende karakters. Die skeppinge uit haar pen getuig beslis van haar fyn insig en mensekennis. – Alita Vorster (Joernalis)
Nuwe Publikasies:
"Kruispad vir Kara"
Kruispad vir Kara word uitgegee deur CUM en is beskikbaar by
CUM,
Graffiti, die CNA, Exclusive Books en PNA.
"Debora gaan huis toe"
Debora gaan huis toe, die opvolg van Debora en seuns, word uitgegee
deur Human & Rousseau - 2017. Die boek is beskikbaar by Graffiti, die CNA en
Exclusive Books asook as e-boek op
amazon.com.
"Debora en seuns" Word uitgegee deur Human & Rousseau - 2015. Die boek is beskikbaar by CNA en Exclusive Books en ook as 'n E-boek op
amazon.com.
"When Death becomes Life" Beskikbaar as 'n E-Boek op amazon.com en barnesandnoble.com.
"Engel op die Drumpel" Word uitgegee deur Christelike Uitgewers Maatskappy - 2011. Die boek is ook beskikbaar op amazon.com as 'n e-boek.
"Somersneeu" Word uitgegee deur Human & Rousseau - 2010. Die boek is ook beskikbaar om amazon.com as 'n eeboek.
"Omnibus 12" Word uitgegee deur Human & Rousseau - 2010. Die boek is ook beskikbaar op amazon.com as 'n e-boek.

"Die
hemelburgers"
Word uitgegee deur CUM Boeke - 2009.
- "AS DOOD LEWE WORD" Word uitgegee deur CUM Boeke, Julie 2007
-
Nou beskikbaar in English as 'n E-Boek by amazon.com of barnesandnoble.com
"Omnibus
10"
Word uitgegee deur Human & Rousseau Uitgewers - 2008. Ook beskikbaar op
amazon.com as e-boek
In die Vrystaatse Riemland woon die Bassons en die Baumanns wie se geskiedenisse deur vriendskap en intrige verweef is. Hulle ken vreugde en leed, en die ver paaie wat die liefde met elkeen loop. Hierdie twee romans, waarin die karakters letterlik en figuurlik ver moet reis, beeld die wel en wee van dié twee families met deernis uit. Human & Rousseau Uitgewers
"Dieper water"
Word uitgegee deur Tafelberg Uitgewers in Oktober 2007. Ook beskikbaar op
amazon.com as 'n e-boek.
Op die plaas, Diepwater, speel die verhaal van Rachel en Hektor Froneman hom
af. Hulle is tegelyk minnaars en eggenote, vriende en bitter vyande. Van hul
kindertyd af is hulle onskeidbaar. Maar Diepwater, geleë in die berge van
die Oos-Vrystaat, is ‘n plek van geskiedenis en trauma. Soos wat die
veranderende tye, van voor die Tweede Wêreldoorlog tot anderkant apartheid
deur die land golf, word ook Rachel en Hektor ten seerste daardeur geraak.
Ook Rachel se Ouma Ragie en haar Nikolaas se liefde is op hierdie geliefde
familieplaas deur ‘n oorlog getoets. Rachel s’n weer deur die politieke gees
van die tyd. Sy ontdek dat sy politiek haat, want dit bring ‘n verskriklike
tweespalt in haar. So erg dat sy selfs vir Hektor, wie sy innig liefhet,
vervreem... Sy ontdek dat geen mens die beeld van sy tyd kan ontsnap nie en
dat mens nie vir altyd met ‘n geheim kan saamleef nie. Dat die waarheid hom
sélf later uitdra buite toe...
‘Dieper water’ is ‘n familie sage waarin drie liefdesverhale oor drie
tydperke vervleg is. Die kompleksiteit van die liefde en die soeke na die
self vorm die tema van hierdie roman. Dit gaan hier oor die aard van liefde
en vertroue - en die weerloosheid van die mens as die tydgees oor hom spoel.
‘Dieper water’ is op geen vlak ‘n liggewig nie. Die plot, struktuur,
karakterisering en uitbeelding van die milieu in Dieper Water is besonder
knap vasgelê. Dit is ‘n roman met diepgang, een waarvoor die woord
“oppervlakkig” beslis nooit sal geld nie – Dr. Etienne Bloemhof -
Redakteur – Tafelberg Uitgewers.
Dis ‘n pragtige verhaal met diepte en warmte. – Madri Victor –
Assistent Redakteur – Tafelberg Uitgewers.
"Lelie
van die Laagte" Hierdie is ‘n Mirre boek, ‘n Christelike reeks
van Tafelberg Uitgewers wat in September 2007 verskyn. Ook beskikbaar op
amazon.com as 'n e-boek..
Mia Dijkstra is ‘n jong predikant en help uit in die
stadsgemeente waar sy en haar veel jonger suster, Karien, grootgeword het.
Hul ouers is oorlede. Hul situasie is benard want Mia se besoldiging is baie
skraps. Hulle het egter ‘n uitnodiging van hul pa se suster wat op
Stellenbosch woon. Professor Leona Cloete raai hulle aan om by haar op
Stellenbosch te kom woon.
Mia besef gou dat dit eintlik al is wat sy en Karien kan doen. Dis egter nie
so maklik nie en sy moet eers as kelnerin in ‘n restaurant begin werk om hul
karige fondse te sterk. Hul buurman is Tom Muller, ‘n teologiese student wat
eers laat in sy lewe gaan leer het en hy kritiseer Mia op ‘n manier wat haar
hare laat rys. Hy is egter aantreklik en meesal is hy reg. Daar is ook Karel
de la Harpe, ‘n gawe wynboer. Hy vind Mia onweerstaanbaar en bewonder haar
dat sy die moed het om uit te spring selfs al kry sy nie ‘n beroep nie.
Gaandeweg vind Mia tog dat daar werklik ‘n Hand is wat haar lewe beheer.
Iemand om na uit te reik, en al het jy van Hom geleer, moet jy Hom liefs
eers persoonlik leer ken. Sy raak eindelik tevrede met die feit dat sy
eintlik ‘n ‘lelie van die laagte’, of ‘n gewone meisie is. Iemand wat moet
blom waar sy geplant word.
"Omnibus 9"
Word uitgegee deur Human & Rousseau in September 2007. Ook beskikbaar op
amazon.com as 'n e-boek..
Man van Gister is ’n plaasroman oor die lief en leed van vier jongmense wat
na die afloop van hul studies uitsien na ’n idilliese vakansie op Damplaas
in die Oos-Vrystaat. Maar onder die skynbaar vreedsame oppervlak is daar tog
diep emosionele onderstrome in hul onderskeie verhoudinge. En die
aanwesigheid van die nuwe veearts in die omgewing – ’n man met ’n verlede –
lei tot verdere omwentelinge.
Die Bruidseisoen bestaan uit twee lang novelles. In ’n Bruid vir vier
seisoene gaan hou Sanet Bornman in Venesië vakansie waar sy die nuus kry dat
haar flambojante verloofde Kallie skielik getroud is. Maar gelukkig is daar
’n ou vriend wat haar onderskraag, iemand wat wéét dat die liefde die toets
van vier seisoene moet kan deurstaan. In Huwelik in die herfs besluit Amara
om Londen toe te gaan om helderheid te kry oor haar gevoelens vir Pieter
Cronjé en oor sy huweliksaansoek. Die besoek bring haar egter weer in kontak
met haar rampspoedige jeugliefde.
Uur van die Sewester is ’n spannende verhaal wat in die Oos-Vrystaatse berge
afspeel. Clara is terug op die plaas na haar verblyf in Italië en dis eers
wanneer ’n ou jeugvriend, Alfons Minnaar, een aand gewond by die voordeur
opdaag en vra dat sy sy teenwoordigheid geheim hou dat sy agterkom dat daar
vreemde dinge aan die gang is in die berge. Mense praat van dwelm- en
wapensmokkelary . . .
Helene de Kock beeld haar karakters met deernis uit. Vier ontroerende
verhale wat aan die leser genot sal verskaf tot op die laaste bladsy.